GESKIEDENIS

Braam en Marinda Steenkamp is in 1988 in die huwelik bevestig. Daarna het hulle nog vir bykans 9 jaar in die Pretoria gewerk waar Braam ‘n siviele ingeneur  en Marinda ‘n laerskool onderwyseres was.

Kort na die geboorte van hul tweede kind, Ignis, het hulle besluit dat dit beter sou wees om hulle kinders op die plaas groot te maak.  Die geleentheid het vinniger gekom as wat hulle gedink het en in 1996 het hulle  met Jani (4jaar) en Ignis (1jaar) plaas toe getrek.

Alhoewel die omstandighede baie beter en lekkerder was op die plaas, was die geldjies maar skraps en moes hulle weereens van “vooraf” begin. In die tyd is Dané ook gebore en was daar nou 3 kinders in die gesin. Die plaaslewe was ‘n ongelooflike wonderlike voorreg. Terwyl Braam hom besig gehou het met allerhande plaas aktiwiteite waar onder meer die hout bedryf en later sy eie saagmeule op die been te bring, het Marinda dit haar verantwoordelikheid gemaak om aan die kinders asook maatjies van die omgewing onderrig te verskaf. Eers is daar sommer so uit die huis en veral die kombuis klassies aangebied vir kleuters en later het hulle die ou “skaapskuur” ingerig as ‘n volwaardige skool waar aldrie die kinders tuis onderrig ontvang het. Die skuur was vroeër gebruik om skape droog te hou en te skeer. Met tye was daar  25 kleuters, 17 skoolgaande kinders en 5 onderwysers gedurende die dag op die plaas by die skool.  Wonderlike tye en kosbare herinneringe lê opgesluit in die 10 jaar van onderwys op die plaas!

Toe die kinders begin hoërskool toe gaan op die dorp, het die skooltjie leeggeloop en ‘n bergplek geword. Met die totstandkoming  van Florence se trouvenue het Ané, Marinda en Braam oorreed om die skool in ‘n gastehuis te omskep. Maande se beplanning en bouwerk het gemaak dat ‘n pragtige gastehuis uit die eens oue “skaapskuur en skool” gebore is.

Menigte “trougaste” het al in Dennedal Gastehuis oornag. Gaste kom gewoontlik by ons aan en weet nie altyd wat om te verwag nie……….. maar gaan terug huis toe  met ‘n onverwagse, ongelooflike envaring!

slider2
4
slider4
2
slider3
5
241
slider6
221
1